klein. Sy gryp hom en hol al wat sy geleer het, reguit huis-toe. Die vader het die leeu
afgeslag; het soveel vleis as hy kan dra, huis-toe gebring; en het toe weer die ander vleis
dadelik gaan haal; want ’n Boesman eet enige ding—tot slange toe.
Wel, jare het verstryk; en die moeder het weer ’n kindjie—’n meidjie hierdie slag. Toe
die meidjie al kan rondspeel, gaan die moeder daar by die fonteinplek matjiesgoed sny
om matte van te maak. Die kind het daar rondgespeel; sy het te naby die gat water
biesies gepluk, en die watergees het uitgekom en het die kind in die gat water ingetrek.
Die kind huil; die moeder hoor dit, en sy spring in die water om haar kind te red. Sy het
met groot lewensgevaar met die watergees geworstel; dog sy red haar kind en swem met
die meidjie, uitgeput en halfdood, kant-toe. Daarop hol sy huis-toe en laat alles in die
steek. Sy was verskrik, maar tog baie bly.
So kan ons sien, die vader en moeder het groot gevare oor hulle kinders uitgestaan; en
daarom het hulle die twee kinders so liefgekry. En die kinders, aan hulle kant, was baie
gek na hulle dapper ouers; daarom was hul so gehoorsaam.
Die vader kon baie mooi viool speel, en die moeder het geleer om die ramkie goed te
speel. Hulle het dié musiekinstrumente van springbokvel gemaak, wat hul eers haaraf
gemaak, skoon uitgeskraap, en toe oor ’n kalbasdop getrek het. Die snare het hul van die
derms van die bok gemaak, en die strykstok van die sterthare van ’n kwagga.
As die ouers so speel, dan kom die twee kinders voor hulle ouers dans; en dit was vir
algar, o, tog te mooi. So het hul baie plesierige aande en nagte om die veldvuur
deurgebring—vernaamlik as die vader die dag ’n goeie jag gemaak het.
Eendag was die twee ou volk nie fris en op hulle stukke nie; hulle stuur toe die twee
kinders veld-toe om veldkos te soek en te bring. Die kinders bly lank weg; toe die son
ondergaan, was hul nog nie terug nie, en toe word die twee ouers net ongerus. Hulle roep
en skree; maar wat nie antwoord nie, is die kinders.
Die ander dag het hulle gaan soek, die dag daarop, en die dae daarna, maar vind niks nie
—die kinders is spoorloos tot vandag toe nog weg. Andere help soek, dog alles
tevergeefs! Hulle roep en roep, skree en sing, speel viool en ramkie, maar alles verniet:
daar kom geen antwoord nie. Die vader en moeder het later meer kinders gekry, en die
kinders help ook nou om na hulle boetie en sussie te soek.
Die vader gaan toe na Hamerkopvoël, wat alles in die water kan sien, en vra hom waar
sy twee vermiste kinders is. Hamerkop het in die water gekyk, en hy kyk vandag nog;
maar hy verklaar dat hy hulle nie kan uitvind nie, dog raai die vader aan om maar aan te
hou roep. Hy moet in die dag soek, en sy vrou dit in die nag laat doen.